June 22, 2016 7 min read

Just close your eyes and think of England.” Glo koningin Victoria van Engeland se raad oor bedsake aan ‘n pas getroude dogter in die laat negentiende eeu. Dus: Dis jou plig teenoor volk en vaderland om vir ‘n nageslag te sorg, maar moenie verwag dit gaan pret wees nie. Die oordrewe preutsheid het plek gemaak vir ‘n groter openheid oor seks, die wete dat vroue ook seks kan (en asb, ja, wíl) geniet. ‘‘Make love not war’’, was die slagkreet van die blommekinders in die jare sestig. Stomende liefdestonele is deesdae alledaags op die silwerdoek/kassie. Die Fifty Shades of Grey-trilogie het swepies en boeie sexy gemaak. Almal doen dit. Of so voel dit soms. En jy, is jy nie lus nie? Wat is fout met jou? As jy skuldig voel: Jy is nie alleen nie. Brenda (36), is getroud met ’n “liefdevolle beer” wat haar met geskenkies oorlaai. Hulle is meestal in hul vrye tyd saam. Sy is lief vir hom, maar sal enigiets doen om seks te vermy. Die lus ontbreek, daarom kyk sy saans laat TV en kruip dan saggies langs hom by die huweliksbed in. Jy sal verbaas wees hoeveel vroue daarmee kan identifiseer. Dis wêreldwyd só: Vroue se seksdrang is aan’t kwyn. Dalk omdat hulle te veel balle in die lug moet hou, die eise van ’n loopbaan, kinders en eggenoot moet hanteer. En farmaseutiese maatskappye werk kliphard op soek na die nuwe “heilige graal”- ’n pil (of plakker of sproei) om tot hul redding te kom, nes Viagra en kie baie mans se sekslewe omgekeer het. So pas is die eerste pil dan ook in Amerika goedgekeur om ‘n gebrek aan begeerte by vroue te behandel. (Die farmaseutiese maatskappy wat dit bemark, moet nog besluit of hy dit Suid-Afrika toe wil bring en dan by die Medisynebeheerraad daarvoor aansoek doen. Dit kan etlike jare duur voordat dit hier beskikbaar is.) Addyi, die handelsnaam, is pienk teenoor Viagra se blou. En dadelik die etiket van vroulike ‘‘Viagra’’ omgehang. Die enigste ooreenkoms is egter dat albei bedoel is om skop in jou sekslewe te sit. Viagra is vir erektiele disfunksie en vermeerder bloedvloei na ‘n man se geslagsdele. Dit help hom dus om ‘n ereksie te kry en te behou. Addyi fokus op jou kop: Dit teiken die breinboodskappers wat gereken word betrokke by seksuele begeerte is: Dopamien, nor-epinefrien en serotonien. Dis aanvanklik teen depressie ontwikkel. Toe kom proefpersone agter hulle is steeds depressief, maar hul seksdrang is beter, volgens time.com. “Dit probeer die brein oorreed om lus te wees vir seks,” sê dr. Elmari Mulder Craig, president: die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Seksuele Gesondheid (SASHA), seksuoloog en verhoudingskenner van Pretoria. Ongelukkig moet nog baie geleer word oor Addyi en is seksuoloë dit eens dat die newe-effekte ernstig kan wees, sê sy. Dit moet daagliks geneem word en newe-effekte kan lae insluit lae bloeddruk (veral saam met alkohol), floutes en slaperigheid. Dit kan nie vir postmenopousale vroue voorgeskryf word nie.

‘‘Viagra’’ vir vroue

Viagra doen dit helaas nie vir vroue nie. Toetse het getoon daar is wel ’n groter bloedvloei na die geslagsdele, maar vroue word nie seksueel meer geprikkel nie. Want die seksuele respons vir ’n vrou lê in méér as net wat in haar vagina en klitoris gebeur. Die fokus het geskuif -- na wat in jou kop aangaan. Daarom was daar groot afwagting op ’n pil soos Addyi, wat die plesier-sones in jou brein teiken. Ongelukkig moet nog baie geleer word oor Addyi en is seksuoloë dit eens dat die newe-effekte ernstig kan wees, sê dr. Mulder Craig. Dit moet daagliks geneem word en newe-effekte kan lae insluit ernstige lae bloeddruk en floutes, wat deur alkohol vererger word. Ook lomerigheid, naarheid en duiseligheid. Dit kan nie vir postmenopousale vroue voorgeskryf word nie. Addyi se pad is dan ook met omstredenheid besaai. Dis reeds twee keer vantevore deur die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) afgekeur. Toetse het naamlik getoon dit het nie juis ‘n beter effek as die plasebo’s waarmee dit vergelyk is nie. Drukgroepe het egter luid verkondig dis seksisties dat daar nie enige pil vir vroue met ‘n gebrek aan libido is nie. Die uiteindelike goedkeuring daarvan het ’n groot debat ontketen. Daar word gevra of dit die regte redes vir ’n gebrekige libido teiken. Kritici sê die farmaseutiese bedryf, gretig om nuwe markte te ontgin, wil ’n tipiese lewensprobleem amptelik as siekte verklaar, skryf die Duitse dagblad Die Welt (www.welt.de). ‘‘Ons het gewoond geraak daar is ’n pil vir elke kwaal. Die farmaseutiese bedryf se ambisie ontmoet dus eenvoudig mense se verwagtinge.’’ Maar die pad na vroulike begeerte loop eenvoudig nie deur ’n botteltjie pille nie. Daarvoor is vroue se seksualiteit te kompleks. Dis baie meer in die brein gesetel as mans s’n. Vir húlle is dit makliker - selfs net ’n kykie na ’n sexy vrou kan hulle prikkel. Vroulike seksualiteit daarenteen, is steeds ietwat van ’n raaisel. Dis ’n komplekse wisselwerking tussen sielkundige, fisieke en hormonale faktore. Dus: Jou verhouding, liggaam én kop moet gesond wees, berig die Britse koerant The Observer (www.theguardian.com/observer). Inderdaad, sê dr. Elna Rudolph, mediese dokter en seksuele gesondheid-spesialis van Pretoria (met takke in Johannesburg en Kaapstad). Moet egter nie die baba saam met die badwater weggooi nie. Syself beskou die ontwikkeling van produkte soos Addyi as positief. ‘‘Dit beteken daar word moeite met navorsing oor die vroulike seksdrang gedoen. As daar eers klaargespeel is met fisieke probleme wat ’n gebrek aan libido kan veroorsaak, is dit soveel makliker om kop-dinge te takel: ’n konserwatiewe opvoeding, molestering, ens.’’ Testosteroon, die sogenaamde libido-hormoon, word byvoorbeeld dekades al gebruik vir vroue met seksuele probleme. As jy geen testosteroon het nie, kan jou liggaam nie fisiek op seksuele stimulasie reageer nie. Dit kan met transdermale testosteroon-room behandel word. Jou hormone word vooraf met ’n eenvoudige bloedtoets getoets. (Nooit testosteroon-inspuitings vir vroue nie, sê dr. Rudolph.) Testosteroon-aanvullings lei tot een keer meer se seks per maand, nes Addyi, wys navorsing.

Wat gebeur in jul verhouding?

Feit is, daar is nie kitsoplossing vir seksprobleme nie, sê dr. Mulder Craig. Die oorsaak van die probleem moet opgespoor en behandel word. Geen pil gaan help vir ‘n swak verhouding, swak selfbeeld, seksuele molestering as kind, of depressie nie. As daar probleme in die slaapkamer het, moet julle waarskynlik goed na die gehalte van jul verhouding kyk. Want ’n vrou se seksdrang is afhanklik van hoe gesond haar verhouding is. En seksuele probleme is dikwels die eerste simptoom dat dinge nie reg is nie. ’n Pil vir seksualiteit sal dan ook net die simptoom behandel en nie die onderliggende probleem nie. Vroue is geweldig sensitief vir wat in verhoudings aangaan. Jy gaan nie vanaand in die bui wees as jy voel jou man behandel jou die res van die dag sleg nie. Mans en vroue verskil: Hy sal ná ’n argument met seks wil wys hy is nog lief vir jou, sê sy. Onlangse navorsing wys ook sommige vroue het eers stimulasie nodig (arousal) voor sy ’n drang of motivering vir seks het, gaan sy voort. ‘‘Jy gaan dus nie noodwendig ‘n spontane behoefte na seks hê nie.’’ Moenie ook nie gehalte-seks met kwantiteit verwar nie. Dit gaan nie oor hoe dikwels (hoeveel keer per dag/maand/jaar) jy seks het nie, maar hoe goed daardie ervaring is, volgens dr. Rudolph. Gehalte-seks is as jul albei se behoeftes bevredig word, beaam dr. Mulder Craig. Maar dan moet jy weet wat jou behoeftes is. Soos: “Ek hou van romanse’’ of “dis gehalte-tyd saam, die hele aanloop tot seks”. Baie vroue het egter nog nooit gedink wat hul behoeftes is nie. “Seks is ’n spanpoging en julle moet daaroor praat. Seksualiteit is hoe julle kommunikeer, bind, kreatief kan wees, ’n energie-inspuiting kry. Dis ’n manier om te groei: Jy, jou maat en jul verhouding.’’

Om te weet

  • Leer jou liggaam ken. Masturbeer, ontdek waarvan jy hou en vertel jou maat.
  • Werk aan jou seksuele selfbeeld. Versorg jouself goed.
  • Fokus op jou goeie eienskappe en beklemtoon dit. Vergeet van jou selluliet of rekmerke. Mans kyk met ander, sagter oë na vroue. Hy sien dikwels nie die dinge raak wat jou pla nie.
  • Práát oor seks. Verkieslik nie in die slaapkamer nie, maar in ’n neutrale omgewing. Bespreek jul behoeftes, voorkeure en afkeure. Wees eerlik oor jul verwagtinge. Lees saam seksueel opvoedkundige boeke en leer om gemaklik daaroor te kan praat.
  • Bepaal jou prioriteite. Jy is moeg en gestres en jy voel jou man wil meer seks hê as wat jy kan gee. Beplan jou sekslewe. Ruim tyd in vir spesiale, sensuele samesyn -- veral as julle kinders het.
  • Die brein is jou belangrikste seksorgaan: Gebruik dit. As seks meganies en geroetineerd raak, kan fantasie dit weer laat opvlam. Fantaseer oor iets waarmee jy gemaklik voel. Jy kan só in ’n veilige omgewing met nuwe erotiese idees eksperimenteer.
  • Wees romanties en kreatief. Blomme, kerse, wyn, musiek, verrassings en bederfsessies (soos om mekaar te masseer) verrig wondere. Sorg vir afwisseling en wees sensueel én seksueel kreatief.
  • Gaan kompromieë aan. As jou maat se seksdrang baie hoër of laer is as joune, kan sensuele liefdespel ’n alternatief vir seks wees. Spontaneïteit, wedersydse buigsaamheid, eerlike kommunikasie en ontvanklikheid vir moontlike alternatiewe sal bydra tot ’n gelukkige, vervullende sekslewe.
  • Wees realisties. Moenie jou sekslewe vergelyk met wat jy in boeke lees of op TV sien en dan wroeg omdat joune saai en sonder oemf lyk nie. ’n Seksuele verhouding moet vertroetel word. En die groei en ontwikkeling daarvan is ’n lewenslange proses.
  • Soek moontlike oorsake vir probleme. Maak seker daar is nie ‘n liggaamlike rede soos diabetes, ‘n ystertekort of hormonale wanbalans nie. Pyn (algemeen of tydens gemeenskap), vaginale infeksies, moegheid, oormatige alkoholgebruik, medikasie soos antidepressante en kalmeermiddels, onopgeloste konflik, stres en ’n gebrek aan emosionele intimiteit kan ‘n negatiewe invloed op jou seksdrang hê. Praat met jou dokter oor ’n antidepressant wat nie die libido onderdruk nie. Soek hulp as seksuele probleme jul verhouding beïnvloed of as julle nie meer openlik, kalm en eerlik oor jul probleme kan gesels nie.
Bron: Elmari Craig, seksuoloog en huweliksberader.

Die statistiek

Dit voel of almal dit doen, net nie julle nie? Ontspan. Die gemiddelde paartjie in ‘n stabiele, langtermyn-verhouding, het sowat drie keer per maand seks, volgens die nuutste navorsing, wat in Brittanje gedoen is. In 1999 was dit gemiddeld 5 keer per maand. Dat sosiale media is waarskynlik die rede waarom dit afneem, is verlede jaar (2015) by die Wêreldkongres vir Seksuele Gesondheid in Singapoer berig. (Julle gaan saans met jul selfoon/rekenaar bed toe en jul sekslewe ly daaronder.) Dit wil voorkom asof mense wat slenterseks (casual sex) het, meer gereeld die ding doen, verduidelik dr. Rudolph. En dr. Lorraine Becker, mediese dokter en seksuele gesondheid-spesialis van Johannesburg, sê: ‘‘Jy is normaal, jy hoef nie aanmekaar seks te hê nie. Seks is belangrik vir ’n verhouding, maar beslis nie die begin en einde nie.’’ *Author and publication unknown - Please contact us if you have any details regarding the original publication of this article: info@mysexualhealth.co.za Maak 'n safspraak met 'n kenner:
   


Leave a comment

Comments will be approved before showing up.