December 17, 2016 3 min read

Die navorsing wys dat soveel as een uit vyf vroue sukkel met pyn tydens seks.  In my praktyk vind ek dat meer en meer vroue daarvan kla en kom aanklop vir hulp. Ek werk al 'n geruime tyd saam met Dr. Elna Rudolph en die res van haar multidissiplinere span by haar kliniek, My Sexual Health, waar ons al honderde vroue gehelp het om pynvrye seks te kan geniet – selfs sommige wat in soveel as dertig jaar van getroude lewe nooit seks kon geniet het nie! Dr. Elna Rudolph is die kliniese hoof van MySexualHealth.co.za en 'n mediese dokter wat in seksuele gesondheid spesialiseer.  Sy het in Australia, Engeland en Europa verdere opleiding in seksuele gesondheid opgedoen en het 'n besonderse belangstelling in die hantering van pynlike seks.  Hier is haar siening oor seks wat seer is:

Glo jy dat pyn tydens seks net in vrou se kop is?

Ek het letterlik nog nooit 'n pasient gesien wie sy pyn tydens seks net in hulle kop is nie.  Daar is altyd ook 'n fisiese rede vir die pyn – al is dit net die onwillekeurige sametrekking van die bekkenvloer spiere – daar is altyd 'n rede vir wanneer seks seer is.  As daar 'n rede is, is daar ook n oplossing! Die grootste deel van my werk is om die oorsaak van die pyn op te spoor en dan die beste behandelingsplan voor te stel.  Deel van die behandeling sluit meestal ook sessies met jou of 'n sielkundige in om die emosionele aspekte van die pyn sowel as die impak van die pyn op die verhouding aan te spreek.  Seer seks sit nie in jou kop nie, maar dit lol tog met jou kop en dikwels ook met jou verhouding.

Wat is die mees algemene oorsake van pyn wat jy in jou praktyk sien?

Ek sien meestal wat ons noem “oppervlakkige dispareunie” dit wil sê pyn wat onstaan naby die opening van die vagina waar dit reeds seer is as die man probeer penetreer, of wanneer selfs die gebruik van 'n tampon seer (of onmoontlik) is. Mens kry ook “diep dispareunie” wat soms alleen voorkom en soms saam met oppervlakkige dispareunie.  Dit sien ek nie so dikwels nie, want die pasiënte se ginekoloë sorteer hierdie probleem gewoonlik uit voordat hulle by my uitkom.  Die mees algemene oorsake daarvan is endometriose, siste op die eierstokke, prikkelbare derms en hardlywigheid, en dikwels ook die bindweefsel wat vorm as gevolg van herhaaldelike operasies.  Ek hoor dikwels dat dokters vir pasiënte sê dat die oorsaak van hulle pyn hulle baarmoeder is wat “verkeerde kant toe kyk.”  Dit is 'n baie onwaarskynlike die rede vir hulle pyn – ek dink dit is die moeite werd om 'n tweede opinie te kry en die saak verder te ondersoek. Oppervlakkige pyn word gewoonlik veroorsaak deur 'n kombinasie van probleem met die vel, senuwees en die spiere rondom die vaginale opening.  Hierdie abnormaliteite word veroorsaak deur hormoonwanbalanse (byvoorbeeld die gebruik van die pil, menopouse of swangerskap en borsvoeding), herhaaldelike infeksies, of dit kan ook 'n genetiese hipersensitiwitiet van die senuwee wees (in so 'n geval vind ons dikwels dat die pasiënt se naeltjie ook baie sensitief is). Daar is amper altyd abnormale werking van die bekkenvloerspiere met spasmas, snellerpunte en soms ook swakheid van sekere spiere.  In sommige vroue word hierdie probleme veroorsaak deur die verkeerde postuur, rugprobleme of selfs net spanning en angstigheid.  Sommige vroue het konstante spasma en by ander gaan die spiere net onwillekeurig in spasma wanneer daar 'n poging is tot penetrasie, en dan kan die vrou dit nie weer willekeurig ontspan nie.

Wat sluit die behandeling van seer seks gewoonlik in?

Dit hang absoluut af van die diagnose.  Dit is gewoonlik 'n kombinasie van 'n salf wat spesiaal gemeng word vir die spesifieke diagnose en rondom die vaginale opening aangewend word, dikwels ook medikasie om die senuwees wat betrokke is te herstel en te help vir angstigheid, die behandeling van kroniese infeksies, die herstel van die hormoonbalans, die gebruik van dilators om stelselmatig die weefsel te rek en die brein te leer dat penetrasie iets is wat nie seer is nie en waaroor die vrou beheer het, fisioterapie deur 'n handjie vol gespesialiseerde fisioterapeute wat die bekkenvloer spiere kan behandel, seksterapie waar die paartjie gehelp word om stelselmatig weer (of vir die eerste keer!) 'n sensuele verhouding te ontwikkel waar die fokus aanvanklik glad nie op seks is nie, en dan ook dikwels sessies om die sielkundige aspekte van die pyn en die impak op die verhouding aan te spreek, soos wat ek voorheen genoem het.  In sommige gevalle gebruik ons ook Botox of ander inspuitings as die fisioterapie alleen nie help om die spiere laat ontspan nie. Om dit met ons te bespreek, maak vandag 'n afspraak:


Leave a comment

Comments will be approved before showing up.