October 01, 2017 9 min read

Deur Mariette Snyman, oorspronklik gepubliseer in Rooi Rose. Gedeeltelik aangepas deur Dr. Elna Rudolph. Die ekstase van orgasme – of die afwesigheid daarvan – is vir baie mense ‘n taboe-onderwerp. Maar die invloed wat dit op vroue se welsyn en verhoudings het, moenie onderskat word nie. Wat sou jy antwoord as iemand jou vra of jy graag op álle vlakke voluit wil leef? Sluit dit vervulling op seksuele gebied in? En indien jou antwoord “ja” is, speel die ervaring van orgasme hier ‘n sleutelrol? Dié eenvoudige vrae kan ingewikkelde antwoorde hê. Talle vroue wil graag ‘n orgasme beleef, maar het nog nooit. Sommige sou dit graag meer dikwels wou ervaar. Vir baie is dit alledaags, terwyl ander voel dis van minder belang. Daarby het die samelewing gemengde gevoelens oor die spontane genieting van die seksuele. Enersyds is daar ‘n ooraanbod van eksplitisiete kyk- en leesstof; andersyds het baie van ons grootgeword met die oortuiging dat lekkerkry sleg of sondig is. Om die saak verder te kompliseer, is daar onsekerheid oor watter soort orgasme “reg” is. Mense wonder of orgasme die fokuspunt van seksuele omgang behoort te wees, of gelyktydige orgasme ‘n realistiese oogemerk is, en oor verskeie ander sake. Voor ons na verwagtinge, feite en oplossings vir knelkwessies rakende orgasme kyk, kan ons die goedvoelkarakter van orgasme van nader beskou. “Die daaglikse ervaring van genot is noodsaaklik vir gesondheid en geluk en nié bloot ‘n luukse nie,” sê die Amerikaanse ginekoloog en topverkoperskrywer, dr. Christiane Northrup. In haar boek The secret pleasures of menopause (Hay House, 2008) beskryf sy die omvangryke voordele van die vrystelling van stikstofmonoksied, ‘n gas wat deur ons liggame vervaardig word. Dit stimuleer onder meer ons bloedsomloop, weerstand teen infeksie, weefselherstel en produksie van neuro-oordragstowwe, en gee ons gemoedstoestand en lewenslus ‘n hupstoot. Interessant genoeg word stikstofmonoksied vrygestel wanneer ons iets ervaar wat vir ons lekker is. “Alle gesonde, volhoubare genietinge baai ons brein en liggaam in hierdie lewegewende gas. Tydens orgasme is daar ‘n ontploffing daarvan. Ons liggame is ontwerp om onbeperkte hoeveelhede plesier te ervaar.” Hierdie positiewe siening van ons plesierpotensiaal word versterk as ons in ag neem dat die klitoris, wat verantwoordelik is vir seksuele opwekking, suiwer daar is vir vroulike genot. Dit het geen ander funksie nie.

Verwagtinge en feite

“Mans heg baie waarde aan hul verhoudingsmaats se vermoë om ‘n orgasme te kry,” sê dr. Elna Rudolph, kliniese hoof van die MySexualHealth Kliniek in Pretoria en Kaapstad. “In ‘n omvattende studie is 7000 mans uit vyf lande gevra watter aspek van hul seksuele lewe vir hulle die heel belangrikste is. Die gemiddelde antwoord was nie die intensiteit, duur, of ‘n ander faset van hul eie belewenis nie, maar of hul maat ‘n orgasme bereik.” Hierdie voorkeur stel hoë eise aan vroue. Fisiek is dit moeiliker vir ‘n vrou om ‘n orgasme te kry, en die nodige stimulasie neem veel langer as vir ‘n man. “Ongeveer 5% van alle vroue kry nooit ‘n orgasme nie. Net 30% kry gereeld ‘n klimaks tydens seksuele omgang, en ‘n verdere 30% bereik ‘n orgasme met bykomende klitorale stimulasie tydens penetrasie en ‘n verderder 30% slegs met klitorale stimulasie, nooit tydens omgang nie.” Onder die verskillende tipes orgasme tel vaginale, klitorale en kombinasie-orgasmes. ‘n Vaginale orgasme vind plaas wanneer die vagina intern voldoende gestimuleer word. ‘n Klitorale orgasme is die gevolg van genoegsame stimulering van die klitoris. Omdat die vagina beduidend minder senu-eindpunte as die klitoris het, vind orgasme makliker plaas wanneer daar ook klitorale prikkeling is – ‘n kombinasie-orgasme. Baie mense het vooroordele teenoor klitorale en kombinasie-orgasmes, deels omdat die vader van die psigoanalise, Sigmund Freud, klitorale orgasme in die vorige eeu as ‘n “adolessente verskynsel” genoem en beweer het dat “volwasse vroue” suiwer vaginale orgasmes het. Die kontroversiële G-kol – ‘n erotiese sone op die boonste, voorste wand van die vagina – kan tot orgasme en moontlike ejakulasie lei wanneer dit gestimuleer word.  Die ejakulaat is ‘n kleurlose vloeistof wat net by sommige vroue voorkom. Sommige vroue kry veelvuldige orgasmes – meer as een op ‘n keer. Nagtelike orgasmes kom voor wanneer erotiese drome ‘n vrou tot ‘n klimaks dryf.  Onwilleurige orgasmes vind soms plaas tydens verkragting of gedwonge seksuele verkeer, en kan skuldgevoelens tot gevolg hê. Anale orgasmes is die gevolg van anale prikkeling; die anus deel ‘n wand met die vagina en dieselfde senuweevoorsiening. Vollyforgasmes duur langer as “gewone” orgasmes en kan kontraksies van liggaamsdele soos die buik, hande en voete asook spirituele piekervarings insluit. Dit word gewoonlik met tantriese seks verbind.

Wat kan skeefloop?

Talle faktore kan orgasmes verhoed, vertraag of strem. Hieronder tel mediese toestande soos diabetes en hartsiektes; die newe-effekte van medikasie, wat sekere soorte slaap- en angswerende middels insluit; alkohol; bindweefselvorming weens verskeie operasies in die omgewing van die bekken; depressie; moegheid; spanning; verhoudingsprobleme; ‘n verhoudingsmaat se seksuele disfunksie of gebrek aan bedrewenheid in die liefdespel; te min tyd of privaatheid; aandagafleibaarheid; ‘n gebrek aan eiewaarde; ‘n swak liggaamsbeeld; morele en geloofswaardes wat die genieting van seks bemoeilik; gevoelens oor huidige of vroeëre intieme verhoudings, en traumatiese ervarings. “Fisiek gesproke moet die senuweestimulasie en bloedtoevoer in die bekken voldoende wees vir orgasme om plaas te vind,” sê Elna. “Die spiere moet kan ontspan én saamtrek. Verder moet die breinhormone in goeie balans wees. “Elke vrou moet op ‘n sekere manier gestimuleer word, en sy moet die stimulasie biologies en sielkundig kan prosesseer. Dit beteken sy moet genoeg vertroue in haar maat hê sodat sy bereid is om beheer te verloor in sy teenwoordigheid. Goeie kommunikasie is noodsaaklik. “Ek sien dikwels paartjies met die volgende geskiedenis: toe hulle getroud is, het hulle min van seks geweet. Voorspel het nie ‘n groot rol gespeel nie en die vrou het nie orgasmes gekry nie. Toe die kinders kom, was sy altyd moeg en wou sy seks net so gou moontlik verby kry. Die man het dus nooit die geleentheid gehad om te leer hoe om haar behoorlik op te wek nie. “In haar veertigs of vyftigs begin sy boeke lees en met vriendinne gesels, en kom agter sy mis iets. Nou wil sy orgasmes ervaar, en sy is ontevrede. Die man voel hy is ‘n slegte lover en kan hom aan die verhouding onttrek. “Vir hierdie en ander scenarios is daar raad. Omdat soveel faktore betrokke is, benader ek en my kollegas by die sentrum pasiënte multidissiplinêr. Ons kyk watter persentasie van die probleem biologies, sielkundig, en sosiaal is, en pas die behandeling daarby aan. Dit kan medikasie, fisioterapie, psigo-, verhoudings- en ander vorme van terapie insluit.

Watter oplossings is daar wanneer ‘n vrou sukkel om ‘n klimaks te bereik?

“Tydens seksterapie begin ons gewoonlik deur seker te maak dat daar baie goeie stimulasie is tydens voorspel – ons luister na presies wat paartjies doen en maak dan voorstelle om die stimulasie te verbeter.  Ek maak ook altyd eers seker dat die mediese oorsake aangespreek en medikasie aangepas word om dit so maklik as moontlik te maak. “Indien al die voorgenoemde in plek is, maar orgasme ontwyk die vrou nogsteeds, gaan dit dalk nodig wees om daardie eerste orgasme alleen te probeer kry met gewone selfstimulasie.  Die druk wat daar op haar is wanneer haar maat by is, veroorsaak ‘n ongunste biochemiese omgewing in haar brein wat orgasme sal verhoed.  Sy moet heeltemal ontspanne wees, sonder enige druk en dit gaan sy waarksynlik net op haar eie regkry. “Die aard en toereikendheid van seksuele stimulasie – veral van die klitoris - is deurslaggewend. Vroue wat probleme met orgasme ervaar, kan daarby baat vind om hul eie liggaam in hul eie tyd te leer ken en vas te stel presies wat hulle plesier gee. Wanneer hulle op hul eie ‘n orgasme kan bereik, kan hulle hul maat wys wat vir hulle werk en dit dan saam te geniet. “Hierdie proses is nie so eenvoudig as wat dit klink nie. Baie mense is grootgemaak met die gedagte dat masturbasie onaanvaarbaar is. Wanneer hulle verstaan hoe dit kan help om hulle na orgasme te lei, stel ek ‘n program voor wat hulpmiddels soos erotiese leesstof insluit. Niemand hoef ‘wilde boeke’ te lees nie – hulle kies leesstof wat kongruent met hul oortuigings is. Dieselfde geld vir musiek en flieks. “Nog ‘n uitstekende hulpmiddel is ‘n klein vibrator. Dit word bloot gebruik om bloedvloei na die klitoris te stimuleer. Dis van groot waarde vir vroue wat leer om op hul eie ‘n klimaks te bereik, of wanneer vaginale stimulasie tydens omgang nie tot orgasme lei nie. Hierdie vibrators is by MySexualHealthShop, www.pureromance.co.za of www.matildas.co.za beskikbaar. “Vir orgasme is ‘n verhoogde staat van opwekking nodig. Dit het met jou hele wese te make. Jy kan leer om jou sintuie te gebruik om in die oomblik te wees deur in ‘n gegewe moment op ‘n spesifieke sensasie te fokus sonder om dit in jou kop te probeer omskryf. “Party mense het iets meer opwindends nodig as dit wat hulle in die oomblik ervaar. Dan kan ‘n fantasie waarin jy jou ervaring na ‘n woud, ‘n strand of selfs ‘n publieke plek verplaas, die verskil maak. Weer eens moedig ek pasiënte aan om fantasieë te gebruik wat met hul oortuigings strook. “’n Nuttige wenk is dat vroue daarteen moet waak om hul mond tydens die liefdespel toe te maak. As jy op natuurlike wyse saam met die ritme asemhaal, kry jy makliker ‘n orgasme. Jy en jou maat moet kan hoor waarmee julle besig is! “Wees ook bewus van jou liggaamshouding. Haal die kussing onder jou kop uit en sorg dat jou postuur oop en ontspanne is. “Baie vroue besef nie dat voorbehoedmiddels hul hormone op ‘n manier kan beïnvloed wat die belewing van orgasme benadeel nie. In sulke gevalle beveel ek eerder die gebruik van ‘n Mirena aan.” Is orgasme – veral gelyktydige orgasme - die toppunt van seksuele ervaring? Die term “voorspel” impliseer immers dat enige seksuele stimulasie blote voorbereiding vir die “hoofgebeurtenis” is. “Seks gaan nie primêr oor orgasme nie. Baie vroue kan bevredigende seksuele ervarings hê sonder orgasme. Ek sê altyd vir vroue dis hul reg om elke keer wanneer hulle seks het ‘n orgasme te kry, maar dis nie verpligtend nie. Die keuse behoort aan hulle. “Omdat mans en vroue se liggame so verskillend werk, is gelyktydige orgasme nie ‘n maklik bereikbare doelstelling nie. Dis ‘n bonus!” Meer inligting by 086 727 2444, info@MySexualHealth.co.za of www.MySexualHealth.co.za

Eindelik!

Lindie* (29) werk in die skoonheidsbedryf en is twee jaar gelede met haar skoolliefde, Allan*, getroud nadat hulle ‘n ruk saamgebly het. “Ek het konserwatief grootgeword. As daar ‘n sekstoneel op TV was, het my ma gesê: ‘Maak jou oë toe’ – selfs toe ek al 18 was. Ek het nie eens daaraan gedink om te masturbeer nie.” Lindie het nooit ‘n orgasme gehad nie. “Vroeg in ons verhouding het ek in ‘n intieme oomblik gedink ek gaan climax. Allan het sy hand oor my mond gesit want daar was ander mense in die huis. Dit het my geblok. Daarna het ek nooit weer tot by daardie vlak van opwekking gevorder nie. “Dit het my altyd gehinder, veral toe iemand eendag in ‘n geselskap sê as jy nog nie ‘n orgasme ervaar het nie, het jy nog nie regtig seks gehad nie. “Ek het by ‘n vriendin van dr. Elna Rudolph gehoor. Dit het my verstom dat Elna so gemaklik oor seks praat. Toe sy voorstel dat ek ‘n vibrator kry en verduidelik hoe ek dit moet gebruik, het ek gedink daar is geen manier waarop ek dít sou doen nie! Ek was te skaam. Ná drie dae het ek egter besluit ek kon niks verloor deur dit te probeer nie. Ek het die bullet by ‘n webwerf bestel. “Ek moes eers op my eie probeer om ‘n orgasme te kry. Aanvanklik was ek baie gespanne. Toe dit uiteindelik gebeur, was ek so chuffedmet myself dat ek ‘n dag lank loop en glimlag het. My man wou weet wat aan die gang was! Ek was baie skaam om die vibrator voor hom te gebruik, maar het gou gemaklik geraak daarmee. Hy het gesê ek weet nie hoeveel dit vir hom beteken dat ek ons liefdespel so geniet nie. “Ek is bly ek het hierdie ervaring op dié tydstip in my lewe gehad. My liggaamsbeeld is beter as in my vroeë twintigs, en ek is gemakliker met wie ek is. Ek oefen en leef gesond, wat my selfbeeld positief beïnvloed. En ek weet hoe om die orgasmes te waardeer! “Vir enige vrou met dieselfde probleem wil ek sê: moenie moed verloor nie. Jy is nie alleen nie. Jy kan jou lyf terugkry!” *skuilname

Het jy geweet?

Orgasme …
  • Verlig slaaploosheid, spanning en angs
  • Kikker die gemoed op natuurlike wyse op
  • Verbeter kardiovaskulere gesondheid en verlaag die risiko van tipe 2-diabetes
  • Verhoed en verlig servikale inflammasie en urienweginfeksies
  • Help die liggaam se natuurlik ontgiftingsproses aan
  • Versterk die spiere van die bekkengordel
  • Kan help om ‘n dreigende migraine-aanval in sy spore te stuit
  • Verhoog pyndrempels
  • Vermeerder oksitosoon-vlakke, wat verbind word met passie, intuïsie en sosiale vaardighede
  • Help om menopousale vroue se vaginale membrane gesond te hou
Bronne: “Becoming orgasmic” deur Julia R Heiman en Joseph Lopiccolo, Fireside, 1987 “Dr Eve se seksboek: ‘n gids vir jongmense” deur dr. Marlene Wasserman, Human & Rousseau, 2008 “Die koekieboek” deur Maritza Breitenbach, Paddycat, 2012 “Menopause made easy” deur Carolle Jean-Murat, Hay House, 1999. Sien ook www.youtube.com/watch?v=s9QVq0EM6g4 www.rooirose.co.za OnsartikelMenopouse:‘n sensueler jy”het meerinligting oor stikstofmonoksied,slaapkamersake,ensomeer. www.floliving.com Of gaan loer by mysexualhealthshop.co.za of daar nie iets is wat jou sal help nie:    


Leave a comment

Comments will be approved before showing up.